Friday, 28 September 2018

Is ons kinders nêrens veilig nie?


Die ontstellende gebeure by die Dros restaurant in Silverton Pretoria is skokkende nuus. ʼn Onskuldige klein dogtertjie word wreed deur ʼn twintigjarige man verkrag en aangerand. As dit is wat ons aan ons kinders doen, watter hoop is daar nog vir ons land en sy mense?

Mens lees gereeld van kinders wat verwaarloos en verrinneweer word. Groot mense kan nog terugbaklei en weerstand bied, watter kans het ʼn weerlose kind?

Daar word altyd in oortreders se verlede gesoek vir redes waarom hulle op ʼn sekere wyse optree. Op dié manier word versagtende omstandighede gevind.

Hier egter kan geen genade bewys word nie. Daar is geen verontskuldiging en geen versagtende omstandighede nie. Dwelms, drank, verwaarlosing van die oortreder... die kind het daarmee niks te doen nie.

Duisend maal, nee.

Dis onaanvaarbaar dat ons ons kinders en klein kinders in ʼn wêreld moet grootmaak waar hulle gedurigdeur op die hoede moet wees dat iemand hulle skade berokken.
Ek wil vanoggend geen genade bewys nie.
Ek is skaam en ontnugter dat ons so verarm het.

Jesus het gesê “Laat die kindertjies na my toe kom en moet hulle nie verhinder nie”.

MATTHÉÜS 18:6 ( Ou vertaling)
maar elkeen wat een van hierdie kleintjies wat in My glo, laat struikel, dit is vir hom beter dat ’n meulsteen aan sy nek gehang word en hy wegsink in die diepte van die see.

Groete
Jannie Pelser
Krugersdorp

No comments:

Post a Comment