Suid Afrika is `n stoompot verwikkelinge. In die onlangse verlede was dit veral die onverwagse en ontstellende aankondiging van mnr Ramaphosa wat mense diep verontrus. Dit terwyl die ooreengekome proses van verhore en besprekings nog nie eers afgehandel was nie. Daarvolgens gaan die ANC in elk geval voort met die wysiging van art 25 en die voorneme om eiendomme sonder vergoeding te vervreem.
Verskillende belangegroepe het verskillende interpretasies van wat tans aan die gebeur is. Sommige verdedig en ander staan dit tee. Sommige dreig en ander maan tot kalmte. Dis die politiek, ekonomie, georganiseerde landbou, ens. ens. wat verwikkelinge interpreteer en die potensiële uitwerking verwoord.
Die kerk het uiteraard ook ʼn prinsipiële belang by die gesprek. Om mee te begin is dit in baie gevalle lidmate van die kerk wie se eiendomme ter sprake is. Dit is ook lidmate van die kerk wat verwagtinge het dat hulle uit vernederende armoede kan kom. Hier praat ons van die groter liggaam van Christus in Suid Afrika.
Die uitdaging is dus dat daar gelowiges aan alle kante van die spektrum is. Daar is voorstanders van vervreemding sonder vergoeding wat kinders van die Here is en daar is teëstanders wat eweneens kinders van die lewende God is.
Hoe nou gemaak?
Die Here het nie witbroodjies nie, Hy is nie aannemer van die persoon nie en Hy trek niemand voor en skeep ander af nie.
So wat moet die boodskap van die kerk wees?
Ek het die gevoel dat die kerk effe stil is tensy ek dit nie raak lees of hoor nie. Die kerk het ʼn profetiese verantwoordelikheid om die owerheid te help om die moontlike implikasies van die grondkwessie kan hê te verduidelik en alternatiewe voor te stel. Dit beteken nie dat die kerk politiek bedryf nie, altans nie party politiek nie. Die kerk het egter ʼn baie belangrike rol om te speel en mag nie nou stilbly nie.
Die kerk moet ook met sy lidmate op reis te gaan ten einde na aan die hart van die Evangelie te bly, ongeag aan watter kant van die verwagtinge spektrum jy staan.
Die kerk behoort die owerheid te begelei om iets te verstaan van God se manier van dinge doen. Hy dra die belange van die weduwees en die wese inderdaad op die hart. Die ou Testament veral is daarvan vol. Hy is egter nie onregverdig teenoor sommige sodat die armes versorg kan word nie. Hy maak eerder ʼn oproep aan die wat het om te deel, te sorg en te versorg. Daarin stel die owerheid ʼn voorbeeld.
Daar is soveel kapitaal in Suid Afrika.
Ons hét nie almal grond en of eiendomme nie.
Ons hét nie almal geld en finansiële stukrag nie.
Maar ons álmal het harte.
Wat het bevoorregtes om te deel? Kennis, vaardighede, ondervinding, opleiding.
Wat het ons wat ons kan weggee sonder dat ons dit eers sal mis? Klere, meubels, gereedskap, ens., goed wat net rondstaan.
Wat het ons wat ons kan gee maar wat ʼn offer van ons vra? Geld, tyd, omgee.
Ook kollegas wat in armoede vasgevang is het ook báie om te gee. Dis nie materieel nie maar bestaan in lewensblyheid, omgee vir mekaar, eenvoud van lewe sonder al die tierlantyntjies wat bevoorregtes nodig het om te kan bestaan.
Ek verbaas my altyd aan die glimlag en lewensblyheid by die armstes.
Ons kan baie by hulle leer.
Hulle is dalk veel ryker as baie van ons sg. bevoorregtes.
Ons kan mekaar help.
Die grootste gawe wat ons het is die Evangelie. Die boodskap van verlossing en die ewige lewe. God gee dit gratis en verniet. Nie om mense afhanklik te hou nie. Dit sou oneties en wreed wees. Die Evangelie is in sy wese bevrydend. Dit nooi mense om hul volle potensiaal voor God te bereik. Dis die begin en nie die einde nie.
Ek wonder of ʼn nasionale dag van verootmoediging vir alle Christene in Suid Afrika nie gepas is nie. Kan ons dit sonder agenda doen behalwe dat God vir ons pad vorentoe wys?
Miskien as ons saam begin by die voet van die kruis vind ons die genade om die pad verder in eenheid en mededeelsaamheid met mekaar te stap.
Ek herinner myself dat die grootste deel van ons bevolking sê dat hulle ten minste met ʼn Christelike vertrekpunt identifiseer.
As ons daar kan begin mag ons vorder.
No comments:
Post a Comment