Wednesday 13 June 2018

Chunkie “shut-up”

Dit is twaalf uur, middernag. Die nag le voor en ek kan nie slaap nie want Chunkie, ons straatpoedel, hou vanaand net nie op blaf nie. Gewoonlik is een vermaning deur die oop venster genoeg om hom tot bedaring bring maar vanaand wil hy niks weet nie. Ek het net aan die slaap geraak toe Chunkie met sy swanesang begin. Die ander honde in die buurt begin saam gesels. Dis nie lank nie en dis ʼn hondekoor soos in 101 Dalmations. Dis verby. Ek is wakker en verwens die brak. Dit gaan ʼn lang nag wees. 

Dan wonder ek of Chunkie dalk nie van gevaar bewus geword het en ons wil waarsku nie. Terwyl ek hom tot stilte verskreeu doen hy net waarvoor hy gemaak is. Wat hy as doodgewone lojaliteit bedoel verrinneweer ek met my ondankbaarheid en vooroordeel. Dis tog wat honde doen, hulle blaf soos katte maauw en voëltjies sing. Elkeen volgens sy soort.

Die affêre laat my aan die lewe in die teenwoordigheid van die Heilige Gees dink. Hy oortuig van sonde, oordeel en geregtigheid, leer die Bybel ons. Ons hoor hoe Hy waarsku dat daar gevaar in die omtrek is maar ons probeer Hom stilmaak. Hy roep ons om wakker te wees en te onderskei maar dit versteur ons vrede en rus. Hy le sy vinger op gevare wat in ons binneste skuil maar ons ontken dit. Ons wil nie hoor nie. Ons is gefrustreerd en ongemaklik terwyl die Heilige Gees benewens al die ander merkwaardige dinge wat Hy doen ons somtyds ook waarsku dat die pad waarop ons onsself bevind ons by die verkeerde bestemming kan uitbring. Ons skree die Gees stil vanuit die vensters van ons gemoed. 
Ons wil eerder slaap.

Volgende keer as Chunkie blaf sal ek meer waardering hê vir sy getrouheid en toewyding. Ek sal stil word en vra of die Gees my tot stilstand roep en of ek nog op die aangewese trajek is.

Joh.16:8,9 
En wanneer Hy kom, sal Hy die wêreld oortuig van sy sonde, van God se regverdige oordeel, en dat die oordeel hier is. Van sonde, omdat die wêreld nie in My glo nie; van God se regverdige oordeel, omdat Ek teruggaan na die Vader toe en julle My nie meer sien nie; van veroordeling, omdat die regeerder van hierdie wêreld reeds veroordeel is.


No comments:

Post a Comment