Monday 7 May 2018

ICU ( I see you )



Gister sien ek hierdie letters op ʼn straatverkoper se T hemp. Dit is ʼn advertensie vir elektroniese produkte maar ek wonder of hy die profetiese inslag en belofte daarvan vir sy eie lewe raaksien.



Om op die hoeke van strate van motor tot motor te loop en met onvriendelike en strak gesigte gekonfronteer te word, kan seker nie maklik wees nie. Ek bevind my ook in daardie groep en beleef die gedurige geklop aan my venster irriterend en intimiderend. Ek wil nie my venster oopdraai en nog ʼn papiertjie van ʼn diens en produk waarin ek nie belangstel, ontvang nie. Ek het al ʼn hele versameling daarvan. Ek ignoreer die mense soos stopstrate, maak of hulle nie bestaan nie en vermy oogkontak omdat dit gewoonlik aanleiding gee tot ʼn opdringerige verkoopsknapie wat nie nee vir ʼn antwoord aanvaar nie. Die meeste van ons kan met hierdie scenario identifiseer.

Die Here werk met my.
Hy sê die optrede behaag Hom nie.
Hy herinner my daaraan dat Hy dié mense raaksien. Trouens Hy skryf dit selfs op hulle T hemde om hulle daaraan te herinner dat Hy altyd daar is.
Ek het die sekuriteit van ʼn inkomste, huis en ander materiële dinge. Dit is alles genade gawes. Ek het dit nie en ek kan dit nooit ook verdien nie.
Dit kon ek gewees het op straat. 

Toegegee daar is kansvatters. Ek respekteer mense wat selfs met ʼn vullissak staan en probeer om jou motor skoon te kry terwyl ander hul probleme met handgeskrewe plakkate uitkontrakteer.
Maar die Here sien hulle ook. 
Dit kon ek gewees het. 

Ai Here, ek staan beskaamd voor U oor die negatiwiteit wat ek somtyds ervaar teenoor straatverkoper en bedelaars. Vergewe my die harteloosheid. Wys my dan hoe U wil hê ek moet optree.
Dankie dat ek ook vandag ʼn T hemp kan aantrek met die woorde “I see you” ( ICU) daarop geskrywe.
Dit is my enigste hoop.

No comments:

Post a Comment