Thursday 3 May 2018

Die blou of die rooi pil?

Ek het nou die dag die bekende fliek “The Matrix” vir die eerste keer gesien. Die 1999 wetenskapsfiksie rolprent was sy tyd ver voor en het verskeie toekennings ontvang. Dis ʼn wakker wees fliek anders verloor jy die storielyn. Selfs na die tyd moes ek heelwat lees om beter te verstaan wat daar aangaan.  






Ek is seker ons lesers is baie slimmer as ek en het die storielyn sommer van die begin af verstaan en gevolg. Hoe dit ook al sy, daar is interessante ooreenkomste tussen die fliek en die Evangelie. Of die skrywers bedoel het om ʼn parodie op die Bybel te wees weet ek nie. Hulle sluit ook by Alice in Wonderland aan. Nee, dis nie ʼn musiekresensie nie, net ʼn bietjie geduld.

Tomas Anderson, later bekend as Neo, is intens bewus daarvan dat daar iets skort met die wêreld. Hy ontmoet vir Morpheus wat hom op ʼn geheim inlaat. Wat mense as die werklikheid beleef is alles skyn. Mense is heerlik op weg na nêrens. Hulle is slawe van ʼn sisteem wat hulle misbruik vir sy eie voordeel. 

Hulle is kragbronne ( human batteries)  wat ander sisteme aan die gang hou. Hulle gaan aan met die lewe en dink dat dit al is wat daar is. Dis dieselfde roetine van opstaan werk toe gaan sosialiseer en gaan slaap. More weer dieselfde patroon. Maar oënskynlik is dit al wat daar is en daarmee het hulle lank reeds vrede gemaak.

Hier en daar is daar ʼn rebel wat ernstige vrae begin vra. Eintlik sê hulle “as dit al is waaroor die lewe gaan is dit nie die moeite werd nie”. Is daar meer is die onrustige gedagte waarmee hulle voortdurend worstel. Dan kom Morpheus, die opper rebel, ʼn terroris,  op die toneel. Ja, sê hy, daar is inderdaad meer, baie meer, maar dit kom teen ʼn prys.

Hy bied vir Neo twee pilletjies (tablette)  aan, ʼn bloue en ʼn rooie. Die bloue hou jou in jou droomwêreld. Jy mis niks en vra niks. Die rooie laat jou in die werklikheid, die ware werklikheid wakker word. Daar is nie omdraai nie behalwe as jy verraad pleeg. 

Die taak van die rebelle groep waarvan jy nou deel word is om ander mense uit die skynwerklikheid te bevry na ʼn lewe van sin en betekenis.

Die werklikheid egter is ʼn ontstellende ervaring. 
Derhalwe moet jy baie mooi dink voordat jy die rooi pil sluk. Dit gaan jou iets kos, dalk jou lewe.

Toegepas op ons en ons verstaan van die Evangelie is daar baie raakvlakke. Ons kan gesus bly in die skynwerklikheid, virtuele werklikheid van ʼn roetine bestaan, salig onbewus dat ons die energie verskaf vir die sisteme wat hierdie pseudo werklikheid aan die gang hou. Ons is siende blind en horende doof. 

Dis die Koninkryk van die duisternis, die bose, die heersende kultuur. Die meeste mense bevind hulle op hierdie trajek. Hulle is ook dood tevrede. Die dominee vertel die gemeente Sondag na Sondag van hierdie werklikheid maar die mense ontdek of sien dit nie. Hulle is vir ʼn oomblik opgewonde maar die saad val op harde selftevrede en beleërde mense se grond.

Hier en daar vra iemand, is daar nie meer nie? Hulle drink die rooi pil, die Gos-pil as jy wil, wat jou opwek vir God se wêreld. Dis ʼn gebroke stukkende, hunkerende en smagtende wêreld. Dis die wêreld wat nie weet daar is meer nie. Hulle kry swaar maar aanvaar dit gelate. 

Die sisteme van die wêreld, die “agents” in die fliek verander voortdurend van voorkoms en beveg alles wat hul sinistere agenda teëstaan met brute geweld. God se agente betree die gebrokenheid van ander mense wat in die skyn lewe. Hulle is onverbiddelik toegewy aan die taak om mense daaruit te bevry. Hulle is rebelle by uitnemendheid. Hulle is vreesloos en gefokus. Hulle betaal ʼn prys. God se werklikheid is nie sonder gevare nie.

Hulle word dikwels belaster en vervolg deur die sisteme van die skyn werklikheid. Hulle het egter ʼn mentor, Jesus van Nasaret. Hy het die rooi pil gesluk. Hy het geweier om toe te kyk en niks te doen nie. Wie Hom drink trek God se wapenrusting aan en se die magte van Efesiërs 6 die stryd aan. 

Jesus het die rooi pil gesluk. Hy het ons wrede wêreld  betree en heling gebring. Hy ruk mense daagliks uit hul skynbestaan uit. Hy bring bevryding en roep hulle dan om ander te help om vry te kom.

“Ons land brand” sê gisteraand se TV nuusuitsending. In die vlees wil ek in ʼn skyn wêreld terugtrek.
Ek wil nie meer weet nie, ek wil nie meer hoor nie. 

Maar ek hoor die woorde van die bekende Halleluja in my gedagtes –
HL 287

1. EK KAN HOOR MY HEILAND ROEP MY,
   EK KAN HOOR MY HEILAND ROEP MY,
   EK KAN HOOR MY HEILAND ROEP MY;
   "NEEM U KRUIS EN VOLG MY, VOLG MY NA!" 

KOOR:
   WAAR HY LEI, DAAR SAL EK MEEGAAN,
   WAAR HY LEI, DAAR SAL EK MEEGAAN,
   WAAR HY LEI, DAAR SAL EK MEEGAAN,
   GAAN EK MET HOM, MET HOM TOT DIE END.


No comments:

Post a Comment