Thursday, 15 February 2018


Die afgelope paar dae was ʼn skoppelmaai ervaring met betrekking tot of  mnr Zuma gaan bedank of hy nie gaan bedank nie. Selfs gisteraand met sy swanesang was ek oortuig dat hy steeds weier om die tuig neer te lê. Sy herhaalde verwysing na die mandaat van die kabinet in dié verband het my tot op die einde van sy voordrag op die punt van my stoel gehad. Toe maak hy ʼn verrassende u draai en kondig sy uittrede aan maar nie sonder om hier en daar ʼn steek in te kry nie. Eerder as om die skuld vir die toedrag van sake te aanvaar en soos ʼn man die gevolge daarvan in die gesig te staar het die wit minderheid weer deurgeloop.

Feit van die saak is,  ons is bevry van die man en glo dat ʼn hoopvolle toekoms voorlê. Natuurlik moet ʼn mens realisties wees . Hy was daarin korrek alhoewel hy dit eerder as verontskuldiging aangebied het dat niemand volmaak is nie.

Ek het mnr Zuma jammer gekry selfs al was hy ʼn bron van frustrasie. Hy het ʼn eensame man van die podium af weggestap te midde van ʼn stil groep joernaliste. Ek het gehoop iemand sal darem handeklap al is dit net om sy menswees te erken. Daar het eerder ʼn kliniese gelatenheid geheers en mense het hul toerusting begin op en in pak.

Waarvoor sal mnr Zuma onthou word?

Bitter min indien enige iets betekenisvol of positief. Sy kenmerkende irriterende laggie het hy as afskeidsgeskenk aangebied. Sy stotterende manier van voordrag het nooit verander nie asook  sy slaafse verbintenis aan die geskrewe teks. Sy onvermoë om skuld vir enige iets te aanvaar en altyd ander te blameer. Sy blatante leuens wat vir die waarheid aangebied word. Die Nkandla sage en die wyse waarom die burgers van ons land beledig is, stel jouself voor ʼn swembad om brandgevaar te bekamp. Sy selfverryking en verbintenisse aan ander op die soustrein. Sy onvermoë om morele leierskap te demonstreer.

Ek is bevrees bitter min.
Aan die ander kant was en is hy ʼn mens mens wat ander mense maklik om sy pinkie kon  draai . Hy is ʼn geslepe strateeg wat nie maklik opgee nie. Tot op die einde is hy die onskuld vanself en moet wit monopolie kapitaal en sy verbintenis tot radikale ekonomiese transformasie die skuld kry vir alles.

Sal mnr Zuma sy dag in die hof hê? Is die gevangenis sy voorland? Wie weet?
Sou enige iemand homself die dag kon voorstel dat die Valke hul motors voor die deur van Saxonworld gaan parkeer, dat die Esidimeni verhoor plaasvind, dat minister Bathabile Dlamini    tot verantwoording geroep word en dat  Brian Molefe sy miljoene “hardverdiende” pensioengeld moet terug betaal , onthou hy het 18 maande diens agter die rug. Die wiel draai en die dag van afrekening het gekom.

Mnr Ramaphosa is die aangewese  staatspresident van Suid Afrika. Die staatsrede sal deur hom voorgedra word. Die rand is besig om sy kop op te tel en internasionale beleggings toon  nuwe belangstelling in ons land. Selfs die wolke het begin om reën te gee.

Ek vertrou mnr Ramaphosa sal die geleentheid gebruik om van die dooie hout ontslae te raak. Ek verstaan dit is ʼn baie sensitiewe en bykans akrobatiese optrede waartoe hy in die volgende dae geroep word. Om Suid Afrika te dien, getrou te wees aan sy gewete, die internasionale gemeenskap tevrede te stel en die belange van sy party voorop te stel is ʼn bykans onmoontlike taak. Hy sal ons gebede nodig hê.
Met mnr Zuma uit die pad is hy in die visier. Die heldeverering sal kortstondig wees. Die opposisie kort ʼn nuwe fokus. Opposisie politiek soek ʼn sondebok. Sterkte mnr Ramaphosa, die wittebrood sal kortstondig wees.

Is God iewers hierby betrokke? Sonder twyfel, of glo ons nie in die krag van gebed nie?
Hoe hunker ons nie na ʼn dag wanneer mnr Mandela se droom van ʼn nie rassige naasbestaan ʼn werklikheid word nie. Ons het een maal iets van die euforie van die moontlikheid beleef. Dit was met die wêreldspele . Vivuzelas het die murg uit ons pype geïrriteer maar dit was uniek en Suid Afrikaans.

Sal die vlag van ons eenheid as nasie nie weer gehys word nie? Kan  ons ons kleinserigheid en bedreigdheid dalk eenkant sit en vra hoe lyk ʼn wen vir al die mense van ons land? Kan ons aan iemand anders dink as onsself eerste? Immers dis die voorbeeld wat Jesus gestel het. Hy het sy sekuriteit verlaat en die onsekerheid van ander betree.

No comments:

Post a Comment