Tuesday, 23 January 2018

Vinnige ryp suurlemoene

Dis nuwe jaar het sy buiging gemaak en agter die gordyn verdwyn. Nou dat die realiteit dat die lewe normaal voortgaan tot ons deurgedring het is dit skouer aan die wiel sit.
Ek kyk by my venster uit en sien die suurlemoenboom in die tuin. Die dankbare boom is getrou om seisoenaal vrugte te lewer.
Nie baie nie maar darem iets. Ek het juis gedurende die week die tuinslang ʼn bietjie daar laat loop omdat daar weer bloeisels en hier en daar ʼn klein vruggie is.
Terwyl ek na die boom kyk gebeur iets in my gees.
Ek sien hoedat die vrugte baie vinnig ryp word, vinniger as normaalweg. Die een oes word deur die volgende opgevolg. Wat gepluk word word bykans onmiddellik vervang. Dis amper soos die bome van Openbaring.
Dit dra vrug twaalf keer per jaar.
Dis asof die Here vir my sê, “maak vas jou gordel, Ek gaan groot dinge onder julle doen”.
Uiteraard glo ek dat dit ʼn woord ook vir my is maar ek het lank reeds die gewaarwording dat die gety draai in Suid Afrika. Ons moet ons kritikasterigheid laat links lê en met verwagting begin lewe. Daar is niks so frustrerend vir God as ons voortdurend met agterdog en pessimisme lewe nie.
Hy doen nie graag iets in so ʼn atmosfeer nie. Sy teenwoordigheid word komplimenteer binne ʼn atmosfeer van geloofsvertroue.
Kan Hy meer doen as wat ons bid of dink?
Inderdaad! Hy is en bly die God van die onmoontlike.
Ek dink die Here sê “Ek is hier om julle te seën” . Dit mag beteken reën waar dit droog is, oeste waar die grond uitgeput is, lewe waar dit voorheen dood was.
Is jy gereed?
Die suurlemoenboom wil dra.
Bring jou mandjie.
Daar is ʼn oes wat afgehaal moet word.
Maak plek vir die volgende oplaag.       
Begin juig.
Die nuwe seisoen is hier.

Groete


Jannie Pelser

No comments:

Post a Comment