Sunday, 14 January 2018

Saam kan Suid Afrika verander.

Evert en Mokoni inspireer.

Die tragiese treinongeluk digby Kroonstad is vars in die geheue. Verskeie mense het onherkenbaar verkool, ander het  ernstige beserings en is  in die hospitaal.

Die helde van die geleentheid is niemand anders as twee jong knape  van die omgewing wat die ongeluk by Geneva, tussen Hennenman en Kroonstad  sien gebeur het nie. Sonder om aan hul eie veiligheid te dink het Evert du Preez en Mokoni Chaka mense gehelp om na veiligheid te skuif. Klaarblyklik het getraumatiseerde ouers babas en kleuters deur die treinvensters aangegee en die jeugdige helde asook ander plaaswerkers  het keer op keer teruggekeer na die ongelukstoneel om te help. Dit was doodgewoon die aangewese ding om te doen vertel hulle. Daar was nood, hulle was naby en het toegetree om die situasie te help hanteer.
Ons salueer hierdie twee celebs. Idols in die ware sin van die Woord. Het iewers gelees dat die Orde van Mendi vir  Dapperheid moontlik aan hulle toegeken gaan word. Mooi so!! Mooi so aan die ouers wat hul kinders reg grootmaak.

Die twee seuns stel ʼn noemenswaardige voorbeeld vir jonk en oud. Suid Afrika is in die nood. Daar is inderdaad tekens van hoop en ʼn mens is diep dankbaar daarvoor. Die taak voorhande kan egter nie voor die deur van ʼn politikus of selfs die regering geplaas word nie. Suid Afrika en haar mense is ons gemeenskaplike verantwoordelikheid.

Kinders kyk anders as ons grootmense. Dis duidelik dat die twee mekaar reeds geruime tyd ken. Hulle speel en verken saam. Daar is nie agterdog, vooroordeel en agendas soos dit dikwels met ons is nie. Hulle kyk vorentoe en waar hulle nood sien raak hulle betrokke.
Ai, kan ons nie daarby kom nie.

Kan ons mekaar se laste begin dra en mekaar se vreugde deel.
Kan ons kyk en sien wat God sien.


Groete

Jannie Pelser
Rant en Dal Prisma


No comments:

Post a Comment