Wednesday, 10 January 2018

Ek spreek lewe

Die liedjie van Juanita du Plessis het nogal impak gehad in ons samelewing. Kinders sing dit op skool en in eredienste sing die gemeente luidrugtig saam.

Ons is geneig om een ding te sing maar iets anders te lewe. Wat gaan vandag oor ons lippe kom? Mens is mos geneig om te praat voordat jy dink. Sonder om na te dink oor die implikasie van jou woorde praat jy soos ander mense praat, herhaal wat die media sê, neem deel aan ʼn negatiewe gesprek wat niks anders as ongeloof is nie, raak ontsteld soos die wêreld, saai ongeloof en staan dan verbaas as die wrange vrugte daarvan na vore tree.

Jy kan nie negatiwiteit en ongeloof saai en ʼn positiewe opbrengs verwag nie. Een of ander tyd kom die oes. Dis die wet van saai en oes en dan staan ʼn mens verbaas met wat spreekwoordelik opgekom het, dit maak jou ongelukkig en jy verwyt God daarvoor. Intussen is dit die saad wat jy gesaai het.
Dit is boonop ʼn mosie van wantroue in die God wat belowe het dat Hy vir sy kinders sal sorg.
Dit herinner aan die negatiewe verslag wat die tien verspieders gelewer het nadat die sg. beloofde land inspekteer is.

Wat weeg vandag die swaarste..die belofte of die reuse?
Die reuse is net menslike projeksies, God huiwer nie voor enige reus nie.
Dawid is vir ons ʼn voorbeeld, die reus moet val. Daar is geen ander moontlikheid nie. Buig of bars, God is in beheer.
Wat gaan jy vandag saai met betrekking tot jou woorde?
Geloof of ongeloof?

Jer.15: 19           
Die Here het toe gesê: As jy jou woorde terugneem, sal Ek jou weer in my diens neem. As wat jy sê, waarde sal hê en nie onsin sal wees nie, sal jy weer namens My kan praat. Die mense moet jóú volg, nie jy vir hulle nie.

Spreek lewe: Juanita du Plessis

ek spreek lewe
ek spreek lewe
want elke woord uit my mond het krag
deur die bloed van Jesus
ek spreek lewe
ek spreek lewe
omdat Hy in my is gee Hy my die mag
deur die bloed van Jesus

onder my voete sal die vyand se kop verbrysel
sy woord is die waarheid
daarom is daar gaan twyfel

deur Hom, is ek bo en nie onder nie
deur Hom is ek eerste en nie laaste nie
want ek is die kop en nie die stert nie
Sy guns sal my volg waar my spore lê
deur Hom, want dis wat Sy beloftes sê

Sy guns sal my volg waar my spore lê
want dis wat Sy beloftes sê

Groete

Jannie Pelser
Rant en Dal Gemeenskapkerk




No comments:

Post a Comment