Dis nuwe jaar.
Hoe voel jy daaroor?
Bekommerd, onseker, selfs moeg?
Ons aanvaar dat alle mense slaggereed is vir die nuwe maar
dis nie noodwendig waar nie.
Dit gebeur meermale dat ʼn mens nie gereed, lus en gemotiveer
is vir die nuwe nie. Immers, dis tog dieselfde mens wat verlede jaar geleef het
wat hierdie jaar moet aandurf.
Dalk was daar nie genoeg geleentheid om te rus nie. Daar is ʼn
aantal sake wat jy nie behoorlik kon afhandel nie. Sommige daarvan minder
aangenaam selfs.
As jy regtig eerlik wil wees moet jy erken die fanfare,
feesviering en “hype” ten spyt, die nuwe jaar is niks waarna jy uitsien nie.
Trouens jy is bekommerd, ontsteld, onseker en ongemaklik daaroor. Jy is bang!!
As ek vir jou sê moenie bang wees nie sal dit nie veel
verander aan jou gemoedstoestand nie. Dis mens teenoor mens, goed bedoel maar
onderworpe aan dieselfde beperkings as jy.
As jou onsekerheid met finansies te doen het en n skatryk
oom met ʼn hart vir sy medemens en ʼn baie sagte plekkie vir jou persoonlik sê “moenie
bang wees nie”, ontspan jy sommer dadelik!!
As jou bekommernis met gesondheid te make het en jou dokter
gee, nadat hy jou deeglik ondersoek het ʼn
skoon verslag, “so gesond soos ʼn vis in die water”, is jou bekommernis iets van
die verlede.
As jou onsekerheid met verhoudinge te doen het en die
persoon wat jy vermoed kwaad is vir jou verseker jou dat alles in orde is, “no
hard feelings”, is die onsekerheid iets van die verlede.
As die Here God, Skepper en Onderhouer van alles, sienlik en
onsienlik, jou verseker van sy omvattende sorg, voorsiening, beskerming, omgee,
liefde, nabyheid, troos, krag, ondersteuning, toerusting, wat jy ook al by die
lysie wil voeg, is jou bekommernis en vrees iets van die verlede.
Waaraan het jy ʼn behoefte so aan die begin van ʼn nuwe jaar?
Gee dit ʼn naam.
In Hom is dit volledig en omvattend aangespreek.
Dis ʼn formaliteit.
Jy mag nodig hê om op
die belofte van sy omvattende sorg (shalom) te reageer. Doen dit sonder om te
twyfel. Hy het belowe en Hy is die Waarheid.
Mag jy ʼn besondere Geesvervulde en energieryke 2018 beleef.
Dankie vir die saamreis in 2018.
Jou reisgenoot
Jes.41:13
Ek is die Here
jou God,
Ek vat jou hand,
Ek sê vir jou: Moenie bang wees nie,
Ék help jou.
Jannie Pelser
No comments:
Post a Comment